Die skool

Die konsep van ‘n plaasskool het meer as 30 jaar gelede reeds die lig gesien. ‘n Behoefte het in die gemeenskap ontstaan om meer as net akademiese kennis aan die kleuters oor te dra, maar ook ‘n ryk lewenservaring. Sedertdien floreer kleuters in die buitelug en bly hierdie beslis steeds ‘n wenresep.

Dit is Klein Phisantekraal se visie dat elke kind as ‘n individu gesien sal word, om kwaliteit onderrig op ‘n speel-speel manier vas te lê in ‘n veilige, natuurlike omgewing waar kinders nog kind kan wees.

Klein Phisantekraal Preprimêr is ‘n ouerbeheerde Christenskool, wat as onafhanklike skool by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement geregistreer is. Ons kleuters is betrokke by parstyd, saaityd, oestyd asook skaapskeer en beesboerdery.

Die skool is die afgelope 9 jaar in die bekwame hande van die skoolhoof, Corneli, en saam met die Opvoeders, Assisstente en Beheerliggaam bestuur sy die skool.

Klein Phisantekraal is ‘n nie-winsgewinde organisasie en is afhanklik van fondsinsamelingsprojekte waarby die ouers en leerders betrokke is.

By Klein Phisantekraal Preprimêr verbind ons, ons tot

  • Sterk Christelike waardes
  • Moedertaalonderrig
  • ‘n Hoogstaande akademiese standaard waarin die kind in totaliteit ontwikkel volgens sy eie vermoë
  • ‘n Veilige, natuurlike omgewing waar elke kind geliefd sal voel
  • Goeie samewerking tussen huis en skool
  • Die kweek van selfvertroue
  • ‘n Toegewyde span Opvoeders en Beheerliggaam wat die skool altyd eerste stel

Kleuters is omring met plaasdiere en raak saam opgewonde as ons baba-skilpaadjies ontdek, lag vir die manewales van Hansie en Grietjie (ons twee dwerg bokke), voer vir Prins (die ponie) wortels en kyk hoe kuikens uitbroei en groot-word op die Plaas.